Vir so lank as wat ek kan onthou word my lewe regeer deur andere. Ouers en onderwysers se verwagtinge, moets en moenies. Ek voel goed oor my prestasies wanneer ander trots is daarop en ek vloeg sleg oor my nederlae wat ander teleurstel.
Ek is nou klaar daarmee.
Hierdie is nou die begin van 'n nuwe pad. Ek gaan begin oefen en gesond lewe, ek gaan lekker dinge doen en my hande in die lug opgooi van blydskap en soveel meer drome najaag en dit ook bereik... En ek gaan dit doen vir myself en my Skepper.
Ek gaan nie gewig verloor sodat my ma gelukkig kan wees nie.
Ek gaan nie my finansies uitsorteer sodat ek nie vir vriende hoef te se ek is broke nie.
Watookal verander en watookal dieselfde bly is vir my en niemand anders nie...
So ek wil graag gesond eet. Nie omdat ek insulienweerstandig is, en my ma en skoonpa dink ek moet dit nou omkeer nie. Ek wil gesond eet, want ek is jonk, die lewe is voor my en ek is pragtig geskape. Ek wil gesond eet, sodat ek elke dag energiek kan wees. Dan kan ek my passies en drome uitleef!
Ek wil graag oefen. Nie omdat ander verwag ek moet sexy wees of omdat ek moet fiks wees om netbalwedstryde te blaas nie. Ek wil oefen omdat ek wil trappe klim sonder om moeg te raak. Ek wil oefen omdat ek gemaklik kruisbeen op die bank wil sit sonder vetrolle wat in die pad is. Ek wil oefen, want as ek fiks is, kan ek minder slaap en meer tyd in my dag gebruik om die lekker dinge in die lewe te doen.
Ek wil graag swot. Nie omdat enige iemand dit van my verwag nie, maar omdat ek hou van swot. Daar is so baie dinge wat ek nog wil leer. Ek dink baie dae ek moet teologie swot... Ek sal 'n terrible dominee wees! Die enigste rede hoekom ek teologie sou wou swot is wel om te preek soms... Ek het soveel tema's waaroor ek vir Christene wil preek. Dan dink ek ek moet gaan musiek swot. Dit sal net lekker wees. Dan dink ek weer ek moet dalk gaan meganiese ingenieurswese swot. Ek sal 'n briljante ingenieur maak. En baie geld verdien. Dan kan ek vir drie of vier ander studierigtings betaal. O, en dan wonder ek of ek nie 'n life coach moet word nie. Inspireer mense vir 'n lewe - hoe fantasties!
En moet my nou nie verkeerd verstaan nie. Ek hou van my werk. Ek is mal daaroor. Ek is 'n Wiskunde onderwyseres by 'n tegniese skool. Ek rig koor en netbal af. Ek is mal oor Wiskunde, opvoeding en musiek. Praat van baie passies bevredig in een werk! Vir iemand wat graag ietsie van alles wil doen is dit regtig nogal 'n briljante keuse.
En ek kan darem vir die kinders preek van tyd tot tyd ook. Dominee juffrou Venter.
So in hierdie blog sal ek 'n bietjie skryf hoe ek my lewe vernuwe, waar ek my inspirasie vandaan kry, sommer 'n bietjie Christelike idees en my passies in die lewe deel. Ek hoop om enige iemand te inspireer om 'n besluit te neem om die leisels te neem en hulle lewens selfs te bestuur en 'n keuse te maak om gelukkig en voluit te lewe.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking